Ongesonde plan van NHI ’n erge bedreiging – Rapport, 19 June 2016

Jun 20, 2016
Wat is die grootste bedreiging wat Suid-Afrika in die gesig staar?

Deur Frans Cronje 

Wat is die grootste bedreiging wat Suid-Afrika in die gesig staar?

Die wegkalwing van eiendomsregte? Rasse- en etniese konflik? Werkloosheid? Korrupsie? Die antwoord is die ondergang van die gesondheidsorgbedryf. Die regering het ’n plan vir gesondheidsorg voorgestel wat so verregaande is dat toe my kollegas die plan vir die eerste maal ontleed het, ek oortuig was dat hul beoordeling nie waar kon wees nie.

Die plan staan bekend as die Nasionale Gesondheidsversekeringskema (NHI) en die regering sê dat dit gratis gesondheidsorg van gehalte aan alle Suid-Afrikaners sal voorsien.

Die regering bestee tans sowat R173 miljard per jaar aan gesondheidsorg. Private individue bestee ’n verdere R178 miljard.

Die regering beplan om hierdie hele bedrag te gebruik om die NHI-skema te finansier.

Wanneer die skema gereed is, sal jy na enige dokter of hospitaal kan gaan om gratis behandeling daar te ontvang. Of dit is, in elk geval, die teorie . . .

Die nuwe NHI-fonds sal alle dokters en gesondheidsorgverskaffers in die openbare en private sektore betaal. Dit sal ook alle medisyne koop en daarvoor betaal. Die regering sal ook kan besluit watter behandeling verskaf mag word, watter diagnostiese toetse gebruik mag word en watter nuwe tegnologieë toelaatbaar sal wees.

Elke openbare en private gesondheidsorgverskaffer sal deur staatsinspekteurs gekontroleer en geakkrediteer word. Die regering sal meer as 100 000 nuwe staatsamptenare in diens moet neem om net die NHI aan die gang te hou.

Wat beteken dit alles in die praktyk? As jy ’n dokter nodig het, sal jy na ’n fasiliteit moet gaan wat deur die regering goedgekeur is. By hierdie fasiliteit sal jy slegs die behandeling en medisyne ontvang wat die regering beskikbaar stel. Die betrokke dokter of hospitaal sal jou moet behandel (selfs indien die persoon of instansie privaat is) – wanneer jy uiteindelik voor in die ry is – maar sal nie van jou ’n heffing kan eis nie. Hulle sal hul koste van die regering moet verhaal teen tariewe waaroor die regering sal besluit.

Jy sal nog aan ’n private mediese hulpskema kan behoort, maar dié skema sal net toegelaat word om gesondheidsorgdienste te dek wat nie deur die staat voorsien word nie. Aangesien die staat beoog om byna alle gesondheidsorgdienste te verskaf, sal daar min wees wat die private sektor kan voorsien.

Wat sal met gesondheidsorg gebeur? Gehalte sal afneem. Die dienste en geneesmiddels wat jy verlang, sal nie beskikbaar wees wanneer jy dit nodig het nie. Jy sal in lang rye moet staan – of weke lank moet wag om ’n dokter te kan spreek – om net te hoor dat die regering nie bestel het wat jy nodig het nie. Dokters en ander gesondheidsorgverskaffers sal nie betyds betaal word nie en sal die beroep verlaat of emigreer. Die spesialiste, van wie daar reeds heeltemal te min is, sal eerste vertrek.

Mediese fakulteite by universiteite sal niemand hê om hul studente op te lei nie. Die gehalte van mediese opleiding sal afneem en Suid-Afrika sal nie meer sy eie dokters en verpleegsters van goeie gehalte kan lewer nie.

Lande wat swak mediese dienste bied, kan nie hul middelklas behou nie en Suid-Afrika sal sy middelklas- en ryker mense verloor. Groei- en beleggingsvlakke sal afneem. Staatsinkomste sal ook verminder, en daarmee saam die geldmiddele waaruit die NHI betaal moet word.

Dit is die waansinnigste voorbeeld van kommunistiese beplanning wat ons nóg van die regering gesien het. Dit is, op sigself, genoeg om Suid-Afrika se kanse om ’n suksesvolle ekonomie te word te verpletter.

Lees die rubriek in Rapport hier

Support the IRR

If you want to see a free, non-racial, and prosperous South Africa, we’re on your side.

If you believe that our country can overcome its challenges with the right policies and decisions, we’re on your side.

Join our growing movement of like-minded, freedom-loving South Africans today and help us make a real difference.

© 2023 South African Institute of Race Relations | CMS Website by Juizi