Nuwe SEB-reëls weerspreek Nhlanhla Nene se beloftes – Rapport, 15 March 2015

Mar 16, 2015
“ 'n Klein familiesaak sal 'n kwart van hul onderneming aan 'n swart vennoot moet oorhandig."

Deur Frans Cronjé

Een ding waaroor Nhlanhla Nene, minister van finansies, verlede maand in sy begrotingstoespraak verskriklik gejok het, is dat die regering dit vir klein sakelui makliker wil maak om sukses te behaal.

Die minister het hierdie punt vyf keer geopper en gesê dat sy regering “die potensiaal van klein ondernemings (wil) ontsluit”, “mentorskap en opleidingsteun aan klein sakeondernemings” wil voorsien, “die administratiewe las vir die sakewêreld en veral klein en mediumgroot ondernemings (wil) verminder”, “aansporings vir klein sakeondernemings (wil) verhoog” en “kleinsakeafdelings in sy belastingkantore” wil vestig “om met die voldoening aan belastingvereistes te help”.

Presies die teenoorgestelde is waar, en die regering is van plan om volgende maand deur middel van die nuwe reëls vir swart ekonomiese bemagtiging die beheerlas op klein sake drasties te verhoog. Dit sal dit vir klein sakeondernemings baie moeiliker maak om te oorleef en dit sal waarskynlik ’n hele paar familiesake in die stof laat byt.

My kollega Anthea Jeffery sê kleinsakeondernemings met ’n jaarlikse omset van tussen R10 miljoen en R50 miljoen sal nie langer kan kies aan watter van die huidige sewe SEB-elemente hulle moet voldoen nie. Hulle sal nou aan elke aspek van SEB moet voldoen.

Alle kleinsakeondernemings sal byvoorbeeld swart eienaarskap tot 25% moet verhoog. ’n Klein familiesaak sal ’n kwart van hul onderneming aan ’n swart vennoot moet oorhandig. Dieselfde onderneming sal ook swart bestuursbeheer tot tussen 50% en 60% moet verhoog. Daar sal dus van ’n klein familiesaak verwag word om ’n meerderheidsbestuursaandeel aan iemand anders te oorhandig. Dit beteken dat hulle in die praktyk beheer oor hulle sakeonderneming sal verloor. Hierbenewens sal klein firmas moet verseker dat 60% van hul aankope van ander “bemagtigde voorsieners” gedoen word.

Hierdie nuwe SEB-reëls sal na verwagting vanaf 30 April 2015 geld. Ek weet dus nie hoe om die minister se beloftes te verstaan dat hy dit vir klein sake makliker wil maak om sukses te behaal nie. Weet hy nie dat die nuwe SEB-reëls van krag word nie? Was hy weg van die werk met siekteverlof toe die nuwe beperkings op klein sake bespreek is? Verstaan hy nie hoeveel skade die nuwe reëls sal doen nie?

Ons ken die antwoorde. Natuurlik het hy geweet van die nuwe reëls. Natuurlik het hy deelgeneem aan die kabinetsbesluit om dit te aanvaar en hy weet hoeveel skade dit sal doen. Nogtans het hy in sy begrotingstoespraak aangehou praat oor al die wonderlike dinge wat sy regering vir kleinsake-eienaars wil doen.

’n Mens sien nou hierdie skreeuende teenstrydighede oral by die regering. Pres. Jacob Zuma praat van die belang van buitelandse beleggings, maar maak dit terselfdertyd nog moeiliker vir buitelandse ondernemings om ervare professionele persone na Suid-Afrika te bring en dreig om beslag te lê op die eiendom van diegene wat reeds hier is. Die ministers van landbou en grondbesit praat oor die belang van voedselsekerheid, maar dreig terselfdertyd kommersiële boere en stel perke op die grootte van hul ondernemings. Die minister van arbeid praat oor die krisis van werkloosheid, maar verhoog dan minimum lone en versterk arbeidsregulering.

Die kabinet is soos kinders wat speel-speel regeer. Hulle gaan elke dag werk toe en gee voor om die land te regeer, met geen duidelike begrip van die gevolge van hul besluite nie.

Support the IRR

If you want to see a free, non-racial, and prosperous South Africa, we’re on your side.

If you believe that our country can overcome its challenges with the right policies and decisions, we’re on your side.

Join our growing movement of like-minded, freedom-loving South Africans today and help us make a real difference.

© 2023 South African Institute of Race Relations | CMS Website by Juizi