Hoe om die stryd in die ANC te verstaan – Rapport, 14 March 2016

Die ANC is in ’n oorlog gewikkel. As ’n mens die bewysstukke saamvoeg, bestaan die ANC nou uit twee breë kampe wat ons as die linker- en regtervleuel van die party beskryf. Ons bronne is nie onberispelik nie, maar ons is daarvan oortuig dat die ontleding hieronder grotendeels akkuraat is.

Deur Frans Cronjé

Die ANC is in ’n oorlog gewikkel. As ’n mens die bewysstukke saamvoeg, bestaan die ANC nou uit twee breë kampe wat ons as die linker- en regtervleuel van die party beskryf. Ons bronne is nie onberispelik nie, maar ons is daarvan oortuig dat die ontleding hieronder grotendeels akkuraat is.

Die linkervleuel van die ANC sluit die meeste van sy nasionale leiers in, onder wie die party se adjunkpresident, Cyril Ramaphosa, asook die sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, en sy adjunk, ­Jessie Duarte. Pravin Gordhan, minister van finansies, is ’n lid van hierdie vleuel. Ook die Kommunistiese Party en ’n groot deel van die vakbondbeweging wat by die ANC gebly het is in hierdie kamp.

Die meeste ANC-LP’s val ook in hierdie groep, hoewel hulle vinnig na ’n ander kamp sal oorskakel as hierdie linkse kamp verswak. Die Gauteng-ANC, politieke tuiste van die stedelike swart middelklas, is ook deel van hierdie vleuel.

Ons het die EFF ook in hierdie kamp geplaas, omdat ons nie glo hulle het werklik die party verlaat nie, maar dat hy net ’n tak in ballingskap gevestig het.

Die ANC se linkervleuel beheer twee baie belangrike bates, te wete die tesourie en die administrasie van die party.

Die ANC se regtervleuel sluit ’n groot deel van sy provinsiale leierskorps in, onder wie die premiers van die landelike provinsies Noordwes, Mpumalanga en die Vrystaat. ’n Groot deel van die KwaZulu-Natalse leierskorps van die ANC is ook in hierdie kamp. Jacob Zuma is in hierdie kamp. Hierdie regtervleuel beheer die vroueliga en die jeugliga van die party. Hulle het werklike beheer oor die polisie, die intelligensiedienste, die leër, die Onafhanklike Verkiesingskommissie, die vervolgingsgesag en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Hierdie twee kampe baklei oor wie die ANC ná afloop van sy verkiesingskonferensie aanstaande jaar sal beheer en wie dus die party in die 2019-verkiesing sal lei en wie die nuwe regering en daarna die kabinet sal beheer.

Gordhan probeer byvoorbeeld om beheer oor die SAID te verkry om baie van die korrupte sakemanne wat die regtervleuel van die ANC ondersteun, te ondermyn. Hierdie regtervleuel gebruik op sy beurt die polisie en intelligensiedienste om Gordhan te intimideer. Indien Gor­dhan daarin slaag om beheer van die SAID te verkry, sal dit ’n ernstige terugslag vir die regtervleuel van die ANC wees voor volgende jaar se leiersverkiesing. Dit is waarom Jacob Zuma nie die hoof van die SAID, Tom Moyane, kan afdank nie, tensy hy hom kan vervang met iemand wat die ANC-regtervleuel kan vertrou.

Dit word nou duidelik waarom sowel Mantashe as die EFF vir Gordhan ondersteun.

Watter kant is die beste? Die linkervleuel dra baie ideologiese bagasie, wat hulle daarvan kan weerhou om genoeg te doen om die ekonomie reg te ruk – soos ons verlede maand in die teleurstellende begrotingsrede gesien het.

Hulle het byvoorbeeld nie die wil om die arbeidsmark te hervorm of eiendomsreg te beveilig nie. Die regtervleuel is nie ideologies ingestel nie, maar bestaan hoofsaaklik om die land te plunder. Hulle kan egter ontvankliker vir markgedrewe ekonomiese hervormings as die linkses wees.

Watter kant sal wen? Dit sal bepaal word by ’n verkiesingskonferensie wat die ANC volgende jaar sal hou. Ons beraam dat indien die verkiesing môre gehou word, die regtervleuel 52% van die stemme sou kry. Maar die linkervleuel beheer die administratiewe funksies van die party, wat hulle sou kon gebruik om stemblokke voor die verkiesing te manipuleer. Dit gaan ’n wrede stryd wees.

Lees die rubriek in Rapport hier

© 2018 South African Institute of Race Relations
CMS Website by Juizi

Copyright | Accuracy Guarantee | Sponsors & Donors