Grondbeheer na majoor Wim sonder ruggraat – Rapport, 28 February 2016

Feb 29, 2016
Rassechaos en -waansin daal op die land neer. Kyk na die Universiteit Stellenbosch.

Deur Frans Cronjé

Rassechaos en -waansin daal op die land neer. Kyk na die Universiteit Stellenbosch.

Twee meisies trek soos ruimtewesens aan, verf hulself pers en dra tinfoeliehoedjies (met tentakels). ’n Groepie aktiviste sê die verf lyk swart en voordat jy jou oë kan uitvee, bars pandemonium los. Verklarings word uitgereik. Ondersoeke volg. Vergaderings word gehou. Die drama raak so belaglik dat die universiteit selfs krisis- en traumaberading vir sy hele studentekorps beskikbaar stel.

Die absurditeit van alles is ’n groot genoeg verleentheid, maar dit is die vervolging van die twee meisies, Poekie Briedenhann en Jo-Anne Cloete, wat die situasie baie ernstiger maak. Die universiteit besluit om die twee te skors en hul verblyf in die koshuis op te skort, en boelie hulle dan om ’n verskoning aan te bied.

’n Uittreksel uit die verskoning lui soos volg: “Ons is bewus van ons optrede in die swartgesig-insident gisteraand by die Heemstede-sterreruimteparty, waar die donkerpers verf en blinkertjies waarmee ons ons lywe bedek het, swart voorgekom het en dus kon lyk na ’n poging om swartheid in onguns te bring . . . Ons vra om verskoning vir enige belediging . . . en aanvaar volle verantwoordelikheid . . .”

Dit klink vir my meer na ’n skuldbelydenis as ’n verskoning en ek dink ’n mens moet vra wat die universiteit gedoen het om twee meisies sover te kry om verskoning te vra vir iets wat hulle nie gedoen het nie.

Die universiteit hou vol dat hy eenvoudig standaardprosedure gevolg het. Ek vind dit moeilik om te glo dit is “standaardoptrede” om twee pers ruimtewesens met tinfoeliehoedjies te skors. Die universiteit kon binne tien minute die feite vasgestel en sy studente verdedig het.

Tog glo die rektor, prof. Wim de Villiers stééds dat hy reg opgetree het. Hy sê: “Hoewel ek tevrede is dat die regte prosedure volgens ons beleid gevolg is, besef ek dat dit ’n moeilike tyd vir die betrokke twee studente was.”

’n Moeilike tyd vir die twee studente? Die universiteit het hulle vir die wolwe gegooi. Die universiteit het geweet dat hy, deur hulle te skors en te dwing om verskoning te vra, hulle oorgee aan ’n vuurstorm van rassehaat op sosiale media.

Waarom het Stellenbosch dit gedoen? Ek het ’n paar vrae na die universiteit gestuur wat nie beantwoord is nie; dus sal ek probeer om dit self te antwoord.

Ek dink die universiteitsbestuur was bang. Hulle word maande lank al deur Open Stellenbosch (OS) geteister, wat rassistiese slagspreuke na die universiteit, sy geskiedenis en sy bestuur slinger.

Soos die Rhodes Must Fall-beweging, wat pas skilderye van wit mense by die Universiteit van Kaapstad verbrand het, is OS ’n teenwit-haatgroep wat die werklike sorge van minderbevoorregte studente uitbuit om hul rasse-agenda te dien.

Dit was OS wat skynbaar die ruimtewesenspartytjie tot ’n rasse-insident verwring en daarna aangedring het dat teen die meisies opgetree word. Die universiteit het eenvoudig daaraan voldoen.

Dat toegelaat is dat die waansin so ver vorder, is die rede dat geweld die afgelope week op ons land se kampusse uitgebreek het.

Wim de Villiers behoort hom te skaam dat hy, in ’n poging om die mense wat sy universiteit (en ons land) wou verdeel, te paai, nie die ruggraat gehad het om vir sy twee studente op te staan nie. In teenstelling wys die dapper voorbeeld van Poekie Briedenhann en Jo-Anne Cloete hoe om op te staan vir wat reg is.

Lees die rubriek op Rapport/Netwerk 24 hier

Support the IRR

If you want to see a free, non-racial, and prosperous South Africa, we’re on your side.

If you believe that our country can overcome its challenges with the right policies and decisions, we’re on your side.

Join our growing movement of like-minded, freedom-loving South Africans today and help us make a real difference.

© 2023 South African Institute of Race Relations | CMS Website by Juizi