Frans Cronjé: Iémand roer die pot van aanhitsing – Rapport, 8 November 2015

Die studentebetogings waardeur die land vanjaar geteister is, is deur ’n aantal ontleders en aktiviste as net so belangrik beskryf as dié van 1976. Daar is egter ’n betekenisvolle verskil. In 1976 was die revolusie gerig teen ’n verdagte en ongeoorloofde regering in ’n land waar die meerderheid mense geen ander opsie gehad het nie as gewelddadige protes om die regering te verander. In 2015 regverdig diegene wat hulle tot gewelddadige betogings wend, ’n opstand teen ’n regmatige demokrasie. Die enigste ooreenkoms is dat daar, net soos in 1976 toe daar teen veel meer as Afrikaans geprotesteer is, weer baie meer aan die gebeur is as net ’n protesbeweging teen universiteitsgelde.

By Frans Cronjé

Die studentebetogings waardeur die land vanjaar geteister is, is deur ’n aantal ontleders en aktiviste as net so belangrik beskryf as dié van 1976. Daar is egter ’n betekenisvolle verskil. In 1976 was die revolusie gerig teen ’n verdagte en onge-oorloofde regering in ’n land waar die meerderheid mense geen ander opsie gehad het nie as gewelddadige protes om die regering te verander.

In 2015 regverdig diegene wat hulle tot gewelddadige betogings wend, ’n opstand teen ’n regmatige demokrasie. Die enigste ooreenkoms is dat daar, net soos in 1976 toe daar teen veel meer as Afrikaans geprotesteer is, weer baie meer aan die gebeur is as net ’n protesbeweging teen universiteitsgelde.

Wat werklik hier aan die gang is, is ’n vraag wat nie deur genoeg mense gevra is nie.

Jy moet wonder waarom mense hoegenaamd van revolusie praat. Hulle kan tog sorg vir ’n regeringsverandering deur vir die opposisie te stem. Die DA het dit met die onlangse studenteprotes heeltemal duidelik gemaak dat hy die behoefte aan verhoogde subsidies ondersteun om finansiële uitsluiting te beëindig. Hulle het ’n kosteberekening gedoen van hoe hulle sulke subsidies sou finansier en het in die parlement vir dié model geargumenteer.

Toe die DA-leier, Mmusi Maimane, die Universiteit van Kaapstad tydens die studiegeldbetogings besoek het, is hy weggejaag (nadat hy net weke vroeër tydens ’n stampvol studentevergadering toegejuig is). ’n Paar dae later is Helen Zille ook by die Universiteit Stellenbosch uitgejou en weggejaag nadat studente haar aanvanklik gevra het om met hulle te praat.

Terwyl die DA maniere gesoek het om die studente te help, het die ANC, en die minister van hoër onderwys, gesê dat daar nie aan hulle eise voldoen kon word nie.

Eers nadat die studente byna met geweld die parlement binnegeval en later die week die polisie by die Uniegebou gekonfronteer het, het hulle van standpunt verander.

Die DA was bereid om vir die studente te gee wat hulle wou hê. As hulle opgedaag het ter ondersteuning van die party se voorstelle, sou die ANC beslis in paniek verval en toegegee het aan die studente se eise. Maar die studente het Maimane se werkbare voorstel aktief verwerp en sodoende die enigste eenvoudige oplossing vir die finansieringskrisis geïgnoreer.

Dink ook daaraan dat baie studente selfs ANC T-hemde gedra het terwyl hulle teen die beleid van die ANC geprotesteer het. Hulle kon almal terug in hul klasse gewees het, maar pleks daarvan het hulle besluit om aan die inval van die parlement en die Uniegebou mee te doen. Dit maak dus nie sin dat die protes nét oor universitieitsgelde was nie.

Ons het ’n toenemende gevoel dat daar – van die plaaswerkerbetogings in De Doorns, tot die RhodesMustFall-proteste by Ikeys en die onlangse studentegeld­betogings – baie meer op die spel is.

Elke saak het sy meriete en die individuele protesteerders kon in elke geval geglo het dat die veldtog op die bereiking van slegs dié doel ingestel was.

Ons ondervinding, en die brokkies inligting wat ons begin hoor, bevestig die kennelike gevoel dat iemand besig is om die pot van aanhitsing te roer. Die vraag is wie die grootste voordeel kan trek uit die onrus waartoe dit kan lei. 

© 2018 South African Institute of Race Relations
CMS Website by Juizi

Copyright | Accuracy Guarantee | Sponsors & Donors