Deur Frans Cronjé,
“ ’n 21-jarige meisie het sterwend op ’n voubedjie gelê. Die vader, ’n groot, sagsinnige Boer, het langs haar gekniel terwyl sy vrou in die volgende tent waggehou het oor ’n sesjarige kind, ook sterwend, en nog ’n kwynende kind van omtrent vyf. Hierdie paartjie het reeds drie kinders in die hospitaal verloor en kon dus nie moed opgee met hierdie kinders nie, hoewel ek hard gesoebat het om hulle uit die warm tent uit te kry.
“Ek kan nie beskryf hoe dit voel om hierdie kinders in so ’n vervalle toestand te sien lê nie. Dit is net soos verlepte blomme wat weggegooi is . . . Dit was ’n pragtige kind wat tot vel en been verval het.
“Die baba het so verswak dat hy nie meer kon herstel nie . . . Hy was net drie maande oud, maar so ’n liewe dingetjie. Hy het vanoggend nog geleef, maar toe ek die middag daar kom, het hulle my ingeroep om te sien hoe die klein liggaampie uitgelê word, met ’n wit blom in die handjie. Vir my het dit soos ’n ‘vermoorde onskuldige’ gevoel. En ’n uur of twee later het nog ’n kind gesterf.”
Emily Hobhouse het hierdie woorde in haar Report of a Visit to the Camps of Women and Children in the Cape and Orange River Colonies geskryf wat in Junie 1901 gepubliseer is. Hoewel die Britse regering haar veroordeel het, het die leier van die Liberale Party hom sterk uitgespreek oor wat hy as “metodes van barbarisme” bestempel het en sy LP’s het die konsentrasiekampbeleid in die parlement gekritiseer.
Hobhouse se verslag het genoeg druk op die Britse regering veroorsaak om die Fawcett-kommissie aan te stel om toestande in die kampe te ondersoek. Ondanks die kommissie se vyandigheid teenoor die Boere se saak (een lid het op ’n vroeëre datum voorgestel dat die Boere dankbaar moes wees dat hulle kos gekry het terwyl ’n ander die dogter van ’n Britse generaal was) het hul bevindings dié van Hobhouse bevestig.
Toe die verslag egter in 1902 in die Britse parlement bespreek is, is ’n mosie om die sterftes in die kampe te “betreur” met 230 stemme teen 119 verwerp.
Na raming het 32 000 hoofsaaklik vroue en kinders (swart sowel as wit) aan verhongering, siekte en verwaarlosing in die kampe gesterf. Die berugste sterfte was dié van Lizzie van Zyl weens die skokkende foto wat kort voor haar dood op 9 Mei 1901 in Bloemfontein van haar uitgeteerde liggaam geneem is. Sy is aan verhongering dood en was sewe jaar oud.
Hobhouse het haar geval soos volg beskryf: “Sy was ’n tingerige, swak kindjie wat goeie sorg ontsettend nodig gehad het. Omdat haar vader hom nie wou oorgee of sy mense verraai nie, het Lizzie egter die laagste rantsoen ontvang sodat sy vergaan het van die honger en ná ’n maand in die kamp is sy oorgeplaas na die nuwe, klein hospitaal.
“Hier is sy baie sleg behandel. Die Engelsgesinde dokter en sy verpleegsters het nie haar taal verstaan nie en omdat sy nie Engels kon praat nie het hulle haar as ’n idioot bestempel hoewel sy geestelik gesond en normaal was. Eendag (kort voor haar dood) het sy troosteloos begin roep: ‘Mamma! Mamma! Ek wil na my ma toe gaan!’ ”
Die Britse regering het nog nooit verskoning gevra vir die misdrywe wat in die kampe gepleeg is nie.
Dit is nou tyd dat hulle dit doen.
Lees die rubriek in Rapport hier.