Die #RhodesMustFall-beweging gaan nie oor ’n standbeeld nie. Inteendeel. Die kommentaar van talle ondersteuners wys dit is eerder ’n poging om Westerse invloede van Suid-Afrikaanse universiteite te verwyder. Wanneer die standbeeld weg is, sal verdere eise volg. Baie hiervan is reeds gestel. Dit behels onder meer die aanstelling en bevordering van akademici op grond van ras en nie bevoegdheid nie; dat “wit” vakke verwerp word; en dat Westerse kennis verwerp moet word ten gunste van “Afrika”-idees.
Die vraag is dus wat daarna – nadat Rhodes se standbeeld verwyder is – sal moet weg. Die antwoord berus op die beweging se onmoontlike intellektuele weersprekings en interne teenstrydighede.
Waarom het die studente wat hierdie beweging lei, byvoorbeeld, in die eerste plek aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer en nie aan een van die B-graad-bosuniversiteite nie? Die rede is dat hulle weet dié universiteite is minderwaardig en Ikeys het ’n reputasie vir voortreflikheid. Maar noudat hulle by Ikeys is, wil hulle hê hy moet ook die indiensneming- en akademiese praktyke van die bosuniversiteite volg.
In die tweede plek is van die prominentste leiers van die beweging mense wat meegeding het om Rhodes-beurse, en dit in sommige gevalle ontvang het. Hulle was heel gewillig om met Rhodes geassosieer te word, en gretig om aan Westerse universiteite te studeer, maar ondanks hierdie gegewe wil hulle hê Suid-Afrika moet Westerse onderwys oorboord gooi.
In die derde plek het party van die beweging se leiers begin aantrek soos die Amerikaanse Black Panther-beweging in die 1970’s – swart met leerstewels en barette. Niks toon intellektuele verwarring duideliker as om die kleredrag van Amerikaanse aktiviste (met ’n Europese hoed) na te aap in ’n poging om Westerse kulturele invloede te verwerp nie.
Maar die kragtigste kritiek teen die beweging is sy interne teenstrydigheid. Sy leiers kommunikeer in Engels – die taal van Rhodes. Hulle hanteer hul veldtogte op Twitter, wat deur ’n Amerikaner uitgevind is. Hulle gebruik Apple- en Samsung-fone om te betoog vir die beëindiging van die Westerse invloed op hul kampus. Hulle dra Westerse klere, eet Westerse kitskos, kyk na Westerse rolprente en luister na Westerse musiek.
En tog sê hulle dat hulle alles verwerp wat Westers is. Hulle besef nie dat hulle reeds so diep met die Westerse kultuur verweef is dat hulle Westerlinge ís nie.
Hulle behoort dit te verwelkom, want geen beskawing het nog ooit die politieke en ekonomiese vryheid en hoë lewenstandaard van Westerse demokrasieë gebied nie. Dit is dalk wat genl. Jan Smuts ná die Anglo-Boereoorlog besef het en wat kulturele versoening tussen Afrikanerbelange en die Britse ryk toegelaat het. Pleks daarvan dat die Westerse beskawing verwerp word, moet ’n soortgelyke proses nou geskied waar Afrikakennis betrek word.
Indien die Rhodes-beweging daartoe lei dat Westerse invloed wel verwerp word, ten gunste van ’n onbekookte Afrikanisties-nasionalistiese ideologie, kan verwag word dat meer politieke vryhede in die slag sal bly, akademiese standaarde sal daal, en ekonomiese ontwikkeling sal ly.
Die ironie is dat die swart politieke, sake- en intellektuele elite mettertyd hul kinders oorsee sal begin stuur om ’n behoorlike Westerse opvoeding te kry – soos in byna elke postkoloniale Afrikagemeenskap gebeur het wat toegelaat het dat nasionalistiese ywer die maatskaplike, akademiese en kulturele norme van Westerse beskawing vernietig.