Deur Frans Cronjé
Waarom is baie Suid-Afrikaners arm en werkloos? Twee antwoorde word gewoonlik hierop gegee.
Die eerste, wat dikwels deur politici en aktiviste opgedis word, is dat “die wit mense nie die grond teruggegee het nie”.
Ongelukkig vir die grondaktiviste is daar net ongeveer 30 000 kommersiële boere in Suid-Afrika, of een vir elke 1 000 volwassenes. Die bedryf verskaf werk aan net 869 000 mense – minder as 6% van alle werkende mense. Vergelyk dit met die 8,3 miljoen mense wat werkloos is.
Die sektor is ook vir net 2,5% van BBP verantwoordelik. Selfs indien al die rykdom wat deur boerdery geskep word, herverdeel sou word (en die sektor nie as gevolg daarvan in duie stort nie), sal dit geen statisties beduidende impak op inkomstevlakke hê nie.
Die tweede antwoord, wat baie onlangs deur Cyril Ramaphosa gestel is, is dat die ekonomie “onder wit beheer bly”. Die implikasie is dat die bates en poste van wit mense herverdeel behoort te word en dat die omstandighede van alle Suid-Afrikaners dan sal verbeter. Langdradig soos dit mag wees, sal ’n paar eenvoudige voorbeelde wys hoe absurd dié idee is.
Vir die meeste gesinne is hul huis hul waardevolste bate. Nietemin het 42% van wit gesinne nog nie hul huise afbetaal nie. Beslaglegging op huise in wit besit sou dus die banksektor ineen laat stort.
Voer die argument verder tot die naas waardevolste ding wat mense het: hul werk. Daar is net 815 000 wit mense in bestuurs- of professionele poste. Diensbillikheidsaktiviste sê vir ons dat dit “te veel” is. As al hierdie wit mense afgedank sou word en hul poste aan swart mense gegee word, sou dit die getal werklose swart mense van 7,4 miljoen tot 6,6 miljoen verminder, terwyl die swart werkloosheidskoers van 39% tot ongeveer 35% sou verminder. Maar daar is nie 800 000 werklose, professionele swart mense beskikbaar nie – die ekonomie getuig trouens van ’n groot vaardigheidstekort.
Die herverdelingsaktiviste kan eis dat beslag gelê moet word op die rykdom wat wit mense in die aandelemark het. Maar inligting van die JSE toon dat swart mense nou ’n groter deel van die mark besit as wit mense. Hierbenewens is bates in die mark meestal in die vorm van groot institusionele beleggers, sodat die oorname van wit aandelebelange in werklikheid die onteiening van pensioenfondse sou beteken wat tot ’n ineenstorting van die spaarbedryf en die aandelemark sou lei – wat al die rykdom in besit van swart mense ook sou uitwis.
Laat ons die herverdelingsargument tot sy absolute uiterste voer en die totale jaarlikse inkomste ná belasting van alle wit mense herverdeel. Dit sal neerkom op ’n eenmalige betaling (want die ekonomie sal ineenstort) van omtrent R15 000 aan elke persoon in die land – ongeveer 10% van Suid-Afrika se huidige gemiddelde jaarlikse gesinsinkomste.
Die waarheid is dat sowel radikale grondhervorming as die volle verdeling van rykdom ons land sal vernietig. Wanneer dit tot sy onvermydelike uiterste gevoer word, sal die verdeling van rykdom ’n massiewe inkrimping van die BBP veroorsaak. Ons ekonoom het gelag toe ek hom vra of ons die skade hoegenaamd kan beraam. Die rand sou teen honderde keer meer teenoor die dollar verhandel. Winkelrakke sou binne dae leegloop.
Ons weet dit omdat dit gebeur het in elke land wat radikale rykdomverdeling probeer toepas het – van Venezuela tot Zimbabwe.
Lees die rubriek in Rapport hier.