’n Klein groepie saai haat en verdeeldheid – Rapport, 14 February 2016

Feb 16, 2016
Soms is die stryd teen rassisme die mees rassistiese geveg van almal.

Deur Frans Cronjé

Soms is die stryd teen rassisme die mees rassistiese geveg van almal. Só blyk dit te wees vir baie politici en kommentators wat die rassisme en armoede wat deur swart mense ervaar word, as ’n voorwendsel misbruik om wit Suid-Afrikaners aan te val. Van hierdie kommentators en politici probeer ongetwyfeld om haat teen wit mense uit te lok. Soms eis hul pogings onomwonde die aanranding, verkragting en moord van wit families – soos in die meer as 40 gevalle wat die FW de Klerk-stigting na die Menseregtekommissie verwys het.

’n Gautengse staatsamptenaar en ANC-lid het gesê: “Ek wil hierdie land reinig van alle wit mense. Ons moet optree soos Hitler met die Jode gemaak het.”

In die Noord-Kaap het ’n senior munisipale amptenaar geëis dat “wit tonge met pangas uitgesny word”.

In ander gevalle is die oproepe sub­tieler. Prince Mashele, ’n voormalige ontleder by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), het onlangs oor armoede en slawerny in The Sowetan geskryf en soos volg afgesluit: “Lank ná 1994 is swart mense steeds ’n bevolking van dienaars – in diens van wit mense.” Hy sê sy lesers moet vergeet van die ekonomie, massiewe regeringskorrupsie en agteruitgaande skole – as swart mense arm bly, is dit omdat “die wittes” hulle arm hou.

Tot baie se verbasing (veral diegene wat haar met hul stem vertrou het), het die voormalige parlementêre leier van die DA, Lindiwe Mazibuko, onlangs “wit mans” vir sogenaamde probleme in haar eertydse party geblameer. Dit maak nie saak dat die party ’n swart leier en toenemend meer swart ampsdraers het nie.

Laat verlede jaar het ’n groep akademici ’n hele aand in die Great Hall van die Universiteit van die Witwatersrand daaraan gewy om wit mense af te takel. Een verslag het daarop gedui dat die gehoor hierdie vertoning so geniet het dat ’n lid van die gehoor spontaan uitgeroep het: “F**k the whites!” Dit is veronderstel om ons naasbeste universiteit te wees. In ’n ander konteks kon ons in November van 1938 in Duitsland gewees het.

Selfs in hierdie subtieler gevalle bly die onderliggende boodskap aan die gemeenskap dieselfde, naamlik dat “wit mense” ’n probleem is en veroorsaak dat swart mense arm is.

Die onuitgesproke implikasie is dat iets omtrent die “wit mense” gedoen moet word. Hulle sê nie uitdruklik wat gedoen moet word nie, maar in ’n land waar byna 15 000 mense elke jaar vermoor word, is hulle minstens daaraan skuldig dat hulle teenwit-haat verskerp.

Wanneer minderhede op hierdie wyse geteiken word, kan dinge baie lelik verkeerd loop. Ek dink nie ons is naby daardie punt nie, maar daar is voorbeelde deur die geskiedenis versprei waar ’n klein getal invloedryke individue daarin geslaag het om haat tussen rasse of etniese groepe aan te stig met tragiese gevolge – vir die hele gemeenskap.

Ondanks die vele pogings tot haatskepping vanjaar, toon die data uit ons meningsopnames steeds dat die groot meerderheid van ons land se mense – wit en swart – diepe respek vir mekaar het en saam aan ’n beter land wil bou. ’n Meerderheid van oor die 80% glo dat die verskillende rassegroepe mekaar nodig het.

Die ekstreme minderheid – wit of swart – wil nie dat jy dit weet nie en wil rassisme teen jou rig om verdere haat tussen rassegroepe uit te lok. Hulle wil dat wit en swart teen mekaar draai.

Moenie dat hulle daarin slaag nie.

Lees die rubriek in Rapport hier

Support the IRR

If you want to see a free, non-racial, and prosperous South Africa, we’re on your side.

If you believe that our country can overcome its challenges with the right policies and decisions, we’re on your side.

Join our growing movement of like-minded, freedom-loving South Africans today and help us make a real difference.

© 2023 South African Institute of Race Relations | CMS Website by Juizi