2015 niks beter wat ekonomie, politiek betref – Rapport, 4 Januarie 2015

Jan 07, 2015
Die IVR se toptien voorspellings oor wat om in 2015 van Suid-Afrika te verwag.

Deur Frans Cronjé

Verskeie ontleders praat baie sonder om in werklikheid veel te sê. Die geskiedenis is ook vol voorbeelde van ontleders wat dit mis gehad het.

Voorbeelde strek van intelligensie-amptenare van Amerika wat in 1979 vir pres. Jimmy Carter gesê het dat “Iran nie in ’n revolusionêre toestand is nie” tot die wêreldwye finansiële krisis van 2007, die Noord-Afrikaanse opstande van 2009, en die mees onlangse opgang van die Islamitiese Staat in Noord-Irak en Sirië. Wanneer jy egter as ontleder waarde wil toevoeg, moet jy bereid wees om jou in die openbaar te verbind tot akkurate, sterk uitsprake en voorspellings.

Hier volg ons toptien voorspellings oor wat om in 2015 van Suid-Afrika te verwag:

■ Ekonomiese groei sal steeds onderpresteer met ’n gemiddelde van omtrent 2% oor die jaar heen. Die werkloosheidskoers sal gevolglik by sowat 25% bly en die begroting en lopende rekeningtekorte sal teen hul huidige vlakke voortgaan. Die verminderde verbruikersaanvraag en wêreldwyd bedrukte oliepryse sal inflasie in die 6%-strook hou, selfs al sal die rand steeds verswak, om die jaar op sowat R11,50/$US1 af te sluit.

■ Jacob Zuma sal die ANC-leier bly, wat beteken dat die regeringsbeleid steeds wanordelik sal wees. Daar sal geen betekenisvolle hervorming op kritieke terreine soos die arbeidsmarkte en onderwys wees nie.

■ Al hoe meer Suid-Afrikaners sal begin vermoed dat die Nasionale Ontwikkelingsplan bedrog was – selfs voormalige ondersteuners van die plan.

■ Met die ekonomie wat in eerste rat bly sit, sal eiendomsregte onder groter druk wees omdat ’n desperate regering maniere sal soek om private eiendom vir herverspreiding te onteien. Die regering se aanslae op eiendomsregte sal van landbou tot intellektuele eiendom strek. Die eerste eiendomsinvalle sal deur die EFF gedryf word.

■ Suid-Afrikaners sal meer tekens van infrastruktuur-ineenstorting ondervind op terreine wat wissel van water, elektrisiteit, spoorweë, hawens en paaie. Net lae ekonomiese groei sal verhoed dat jou krag gereeld af is.

■ Rassenasionalisme sal al hoe meer op die voorgrond wees by beleidsformulering en die regering sal volhard met uiteindelik futiele pogings om voldoening aan “demografiese verteenwoordigendheid” op almal, van die sakegemeenskap tot die Springbok-rugbyspan, af te dwing. Ondanks hierdie regeringsaksies sal al hoe meer derdepartyspelers – insluitend voormalige ondersteuners van swart bemagtiging en regstellende aksie – begin toegee dat rasbemagtigingsbeleide misluk het.

■ Teenregeringsprotesaksies sal verder toeneem. Die staat sal al hoe meer van die polisie en intelligensiedienste gebruik maak om protesoptredes te ondermyn, met dreigemente teen enige verset teen sy bewind, waar dit ook al voorkom.

■ Die drieledige alliansie sal die jaar in stryd met hulself deurbring. Meer van die ANC se beter mense sal die party verlaat en die SAKP sal sy wurggreep op die ANC verder verstewig. Die DA sal probeer om duidelike beleidsalternatiewe teenoor die ANC te ontwikkel. Die EFF sal ernstige interne konflik toon.

■ Internasionale persepsies van Suid-Afrika sal verder agteruitgaan en graderingsagentskappe sal Suid-Afrika afgradeer of ten minste sienings na “negatief” verander. Ons sal ons verval volgens internasionale peilings van mediavryheid tot ekonomiese vryheid voortsit.

■ Stadiger ekonomiese groei in China en stagnasie in die Europese Unie sal verdere druk op die Suid-Afrikaanse ekonomie plaas.

Support the IRR

If you want to see a free, non-racial, and prosperous South Africa, we’re on your side.

If you believe that our country can overcome its challenges with the right policies and decisions, we’re on your side.

Join our growing movement of like-minded, freedom-loving South Africans today and help us make a real difference.

© 2023 South African Institute of Race Relations | CMS Website by Juizi