Afrika blom, Suid-Afrika verwelk - Rapport

Jan 14, 2018
14 January 2018 - Die persepsie dat Suid-Afrika die beste land op die Afrika-kontinent is, is in 2014 'n knou toegedien deur Nigerië se herberekende ekonomiese bruto binnelandse produk (BBP)-syfers.

Gerbrandt van Heerden

Die persepsie dat Suid-Afrika die beste land op die Afrika-kontinent is, is in 2014 'n knou toegedien deur Nigerië se herberekende ekonomiese bruto binnelandse produk (BBP)-syfers.  Suid-Afrikaners kon hulself wel troos deur te verwys na die feit dat ons BBP per kapita van $13 200 vir 2016 steeds oor Nigerië se $5 900 vir dieselfde jaar uittroon.  Maar hoe vergelyk Suid-Afrika met ander Afrika-lande?  Nie te goed nie, as 'n mens na die onweerlegbare data kyk. 

Suid-Afrika se kindersterftesyfer is drie keer hoër as in Libië, Tunisië en Mauritius.  Ons sterftesyfer vir volwassenes is vyf keer hoër as die Ivoorkus s'n.  Die lewensverwagting in Suid-Afrika is laer as in Rwanda en die prentjie lyk meer droewig as jy in ag neem dat Rwanda se lewensverwagting tussen 1990 en 2014 met 91% gestyg het terwyl ons s'n met 7,9% gedaal het.  Tussen 1990 en 2015 het die land se afhanklikheidsverhouding–die hoeveelheid kinders jonger as 15 jaar en volwassenes ouer as 65 jaar vir elke 100 mense wat werk – van 72,8 per 100 werkende mense gedaal na 52,1.  Tog klop Mauritius ons met 'n afhanklikheidsverhouding van 40,6 vir elke 100 werkende mense.  Volgens die Menslike Ontwikkelings indeks(HDI), 'n hulpmiddel wat lewenskwaliteit in lande meet deur na hul inkomstevlakke, lewensverwagting en geletterdheidsvlakke te kyk, is Suid-Afrika nie eens die beste in sub-Sahara-Afrika nie.  Ons buurland, Botswana, hou die titel as die land met die beste lewensgehaltevlakke op die sub-Sahara-vasteland. 

Verder is Suid-Afrika een van die lande met die vrotste werkloosheidsyfers.  In 2016 was Suid-Afrika se werkloosheidskoers amper 27% – 5 keer hoër as die werkloosheidsyfers in Ghana en die Ivoorkus.  Dit blyk dat Suid-Afrika dit ook moeiliker maak vir entrepreneurs om met 'n besigheid te begin.  Die persentasie mense tussen 18 en 64 jaar wat by vroeë stadiums van entrepreneuriese aktiwiteite betrokke is, is hoër in Botswana en Burkina Faso in vergelyking met Suid-Afrika.  Met ons redelik diverse ekonomie is Suid-Afrika die mees mededingende staat op die vasteland; tog klop Mauritius ons steeds in Afrika as geheel.  Ten opsigte van ekonomiese vryheid is Suid-Afrika se posisie 80 uit 186 lande–agter Rwanda (71), Botswana (30) en Mauritius (15). 

Suid-Afrika se onderwysstelsel steek ook sleg af teen ander Afrika-lande.  Uit 140 lande neem Suid-Afrika die 134ste posisie in vir die gehalte van ons onderwys stelsel.  Selfs Uganda, Nigerië en Mosambiek presteer beter as ons en beklee posisies 90, 118 en 123 vir die periode 2016 tot 2017.  Die getal tuberkulose (TB)-voorvalle per 100 000 mense in Suid-Afrika is 13 keer meer as in Rwanda en 11 keer meer as in Eritrea.  'n Persoon is ook meer geneig om toegang tot die Internet te hê in Marokko as in Suid-Afrika.  Verder het Botswana, Malawi, Namibië en Zambië in 2014 beter vlakke van politieke stabiliteit behaal as Suid-Afrika terwyl Lesotho beter beheer oor korrupsie het as Suid-Afrika. 

Hierdie artikel moet egter nie vertolk word as 'n voorstel dat dit sleg is dat ander Afrika-lande in sekere opsigte beter as ons is nie.  Dit is, ondanks faktore soos armoede, ongelykheid, werkoosheid, oorloë, en politieke en ekonomiese onstabiliteit wat Afrika aanhoudend teister, bemoedigend en inspirerend om te weet dat baie lande op die kontinent besig is om ryker, meer stabiel en meer gevorderd te raak.  Ons moet net seker maak dat Suid-Afrika nie agtergelaat word terwyl die res van Afrika vorder nie.  Ons moet eerder saam met die res van Afrika groei.  

 

Gerbrandt van Heerden as an analyst at the IRR

Support the IRR

If you want to see a free, non-racial, and prosperous South Africa, we’re on your side.

If you believe that our country can overcome its challenges with the right policies and decisions, we’re on your side.

Join our growing movement of like-minded, freedom-loving South Africans today and help us make a real difference.

© 2023 South African Institute of Race Relations | CMS Website by Juizi