‘Wokeness’ bedreig demokrasieë - Afrikanerbond

2 June 2021 - Karl Marx het die Kommunistiese Manifes ingelui met die woorde 'ʼn Skrikgedaante spook by Europa ⁠– die spook van die Kommunisme'. Dit is 'n uitdagende beeld, ʼn beeld van iets wat erken word maar onherkenbaar bly, iets diep bedreigend. Dit was natuurlik presies wat Marx in gedagte gehad het.

Terence Corrigan

Karl Marx het die Kommunistiese Manifes ingelui met die woorde 'ʼn Skrikgedaante spook by Europa ⁠– die spook van die Kommunisme'. Dit is 'n uitdagende beeld, ʼn beeld van iets wat erken word maar onherkenbaar bly, iets diep bedreigend. Dit was natuurlik presies wat Marx in gedagte gehad het. Marx – 'n besonder talentvolle skrywer, ongeag van wat ʼn mens van sy politieke oortuigings dink – het die manifes opgestel om hierdie ideologie uiteen te sit en reaksie te ontlok. Daarom bly dit nog steeds 'n geskiedkundige dokument van groot belang, wat ook al die leser se siening is van die idees. Persoonlik glo ek dat hierdie idees in die uitvoering daarvan diepgaande verwoesting gesaai het.

Dieselfde sentiment en skrikgedaante is geldig vir 'n meer onlangse verskynsel, naamlik ‘wokeness’. (Daar bestaan nie ʼn behoorlike Afrikaanse woord vir die beskrywing nie) [1] Om dit egter as ʼn skrikgedaante van ons tyd te beskryf, is heeltemal gepas, want dit dui op iets skrikwekkend, dog moeilik om te definieer. Maar laat ons onsself nie mislei nie: 'wokeness' is ʼn werklikheid. Om 'woke' te wees roep nie net mishandeling, diskriminasie of verkleinering op nie. Dit is 'n beskrywende werkwoord wat met trots deur sy aanhangers aangehang word. Ons mag dalk verskil oor presies wat dit is (hoe beskryf ʼn mens tog 'n skrikgedaante ..?), maar na my mening verteenwoordig dit die Duitse Zeitgeist, 'n heersende ingesteldheid oftewel tydsgees.

'Wokeness' se vertrekpunt is simpatie met agtergeblewenes in die samelewing. Hiermee is niks verkeerd nie. Maar dan neem die aanvanklike begrip ʼn rigiede, dogmatiese en onvergewensgesinde karakter aan wat alles uitsnuffel wat aanstootlik mag wees – groot of klein - werklik of denkbeeldig. “Wokeness is selfversekerd en bykans millennialisties, want dit strewe (of is die belofte) na die fundamentele regstelling van die samelewing in sy geheel. Dalk is dit ʼn weerspieëling van die denkwyse van ʼn onsekere samelewing wie se vertroue in godsdienstige doktrine of politieke ideologie – getaan het.

‘Wokeness’ is ook ʼn skepping van 'n toenemend invloedryke intellektuele stroom, die sogenaamde Kritiese Teorie. Hiervolgens word die samelewing gedefinieer  deur magstrukture en die beskrywende identiteit van verskillende groepe, gebaseer op ras, geslag, gender, etnisiteit, ensovoorts. Elkeen van die groepe het 'n spesifieke mate van bevoorregting of verontregting.

Kritiese Teorie is ook in sy oriëntering onbeskaamd aktivisties en 'n instrument vir sowel aksie as kritieklewering. Dit het ten doel om alles wat as onbillike maatskaplike verhoudinge beskou word, omver te werp; feitlik alles moet weer fundamenteel opgebou word. Rassisme en seksisme moet beslis tot niet gemaak word, maar aangesien dit volgens “wokeness” wyer sistemiese patologieë is, moet hele samelewingsterreine ook tuimel. Volgens Ibram X Kendi, wie se werk oor 'anti-rassisme' sentraal is in hierdie tema,  is rassisme en kapitalisme onskeidbaar geheg aan mekaar.

Die uiteindelike gevolg is 'n aggressiewe, onverdraagsame verbintenis tot ʼn eie siening van maatskaplike geregtigheid –  gebaseer op identiteitsvoorskrifte en 'n aanmatigende sin van morele geregtigheid.

Aangesien die alom teenwoordigheid van onderdrukkende magshiërargieë by voorbaat die oorsaak van onreg is, is debat slegs binne eng, voorskriftelik perke toelaatbaar. Enige persoon wat van die voorskriftelike narratief verskil, nooi openbare veroordeling. Dié persoon nie net verkeerd nie, maar ook moreel verdag. Aangesien die mens se identiteit met morele rigtingwysers deurspek is – bewustelik al dan nie – word argumente om die moraliteit te regverdig, nie alleen as onaanvaarbaar verwerp nie, maar ook die geldigheid van die argument. Om van “wokeness” te verskil en om onskuld te betoog, lei tot verdere blaam en dit bevestig in werklikheid jou aandadigheid. Die persoon word inderdaad ʼn verstoteling.

Die gevolg van dit alles is dat bepaalde lewensterreine en areas van maatskaplike interaksie doodeenvoudig nie oop is vir bespreking nie, of as inherent konflikterend, met geen moontlikheid vir onderhandeling of kompromie nie. Dit bedreig die kern van 'n vrye, demokratiese samelewing. Wanneer bykans enige aangeleentheid voor die deur van  ʼn magshiërargie gelê word, word die ruimte vir openbare debat toenemend aan bande gelê. Ironies genoeg beperk dit sinvolle bespreking oor spesifiek daardie kwessies wat Kritiese Teorie en die meer uitgebreide 'woke kultuur'-as belangrik ag. Dit beïnvloed tussengroep verhoudinge.

'n Kernelement onderliggend aan Kritiese Teorie (met ander woorde Kritiese Rasteorie) en wat spesifiek met ras verband hou, is dat verskille tussen rasse die gevolg is van rassisme, en om selfs te wil argumenteer dat dit ander oorsake mag hê, is opsigself rassisties. Dit is 'n perspektief wat neerslag vind in die breër 'woke'- wêreldbeskouing. Die noodwendige “woke” gevolgtrekking is dat slegs rasspesifieke optrede 'n oplossing bied. Om byvoorbeeld te sê dat gesinsstabiliteit die gehalte van onderwys verhoog of dat gemeenskapsinstansies kan bydra tot bepaalde uitkomste, is dus op sigself rassisties.

Hierdie benadering is strydig met navorsing wat bevind het dat ras in veelrassige samelewings  slegs gedeeltelik bepalend is vir sukses (en heel dikwels nie beduidend nie). Dit is ook van toepassing op samelewings wat beskryf word as “white supremacist.” In die Verenigde State van Amerika is daar byvoorbeeld aansienlike verskille in opvoedkundige en ekonomiese prestasies tussen swartmense van ʼn histories Amerikaanse oorsprong (met verdere verskille binne hierdie groep oor staatsgrense en familiegeskiedenisse heen), en swartmense uit die Karibiese Eilande en Afrika wat hulle meer onlangs daar gevestig het. Asiatiese Amerikaners word oor die algemeen beskou as dat hulle goed vaar, alhoewel daar weer beduidende verskille is tussen verskillende gemeenskappe, soos dié van Japannese en Viëtnamese oorsprong. Daar is dus faktore, anders as ras, wat oorweeg moet word.

Die probleem is dat hierdie faktore, soos wat interessante navorsing uitwys – soos Asiatiese Amerikaners wat hulle relatiewe sukses aan ouerbetrokkenheid en familieverwagtinge toeskryf - moeilik is om te reproduseer, of met beleid aan te moedig. Dit kan selfs moeilik wees om te verwoord.

Aan die ander kant lê rassediskriminasie, as ʼn baie pynlike maatskaplike ervaring, vlak in mense se geheue. Dit is in 'n sekere sin makliker om beleide te bevorder wat voorgee dat hulle dit aanspreek. Daar is uiters invloedryke, ruim-befondsde en goed-gemotiveerde groepe wat dit ondersteun. Die 'woke’-benadering word hierdeur gehandhaaf en bevorder.

Ongelukkig sal die fokus op dié identiteit noodwendig die aandag van langdurige oplossings vir bestaande probleme aflei, en elke mislukking sal waarskynlik aanleiding gee tot nog 'n rondte beskuldigings en meer eise vir strenger wordende en meer verdelende maatreëls wat telkens die foute van die vorige rondte sal vermenigvuldig. Dit, op sigself, plaas groot druk op die samelewing.

Wanneer hierdie beleid tot sy logiese uiteinde gevoer word – soos wat dit reeds deur sommige voorstanders van die Kritiese Teorie-beweging verwoord word – lei dit tot enorme institusionele manipulasie wat daarop gemik is om konsekwente 'gelykheid' van uitkomstes te verseker. Die gedwonge maatskaplike manipulasie van samelewings  deur die skep van 'n de facto-toestand van 'apart maar gelyk' sal enige demokrasie versmoor.

Op watter manier kan dit die hoof gebied word?

Die goeie nuus is dat 'wokeness' luidrugtig en lawaaierig is, eerder as gewild. Die feit dat dit 'n obsessie is van kulturele en politieke elite-groepe, maak dit gevaarlik maar ook kwesbaar. Daar was al suksesvol teenstand teen spesifieke kwessies, veral die invoer van Kritiese Teorie in die leerplanne van skole.

Die belangrike punt is dat hierdie wêreldbeskouing direk gekonfronteer moet word. Alhoewel 'wokeness' daarop aanspraak maak dat dit edele motiewe en sentimente bevorder, staan dit lynreg teenoor sommige van die mens se grootste prestasies, naamlik  logika en ervaringsleer, en die vrye debattering en wisseling van idees. Deur die 'Wokeness'  keuse word sy stempel afgedruk op kwessies en veldtogte van openbare belang. Enige teenstand, beteken om hierdie kwessies te betwis met argumente en nie metodiek nie. Redeneer met bewyse; lê bewyse voor en eis bewyse, en moenie afgesaagde uitdrukkings of ideologie as plaasvervanger aanvaar nie.

Om Marx se woorde te verbuig: 'Wokeness' is nie soseer 'n skrikgedaante nie maar eerder 'n vampier wat die lewenskrag en lewensvatbaarheid uit `n demokratiese kultuur suig. Die skade wat dit kan berokken, sal grootliks ervaar word deur welwillende mense met goeie bedoelings, regoor die politieke spektrum.

Terence Corrigan is Projekbestuurder by die Instituut vir Rasseverhoudinge

https://www.afrikanerbond.co.za/die-aard-van-wokeness---junie-2021

© 2020 South African Institute of Race Relations
CMS Website by Juizi

Terms & Conditions | Privacy Policy | PAIA Manual | Accuracy Guarantee | Sponsors & Donors

m