
Hermann Pretorius
Hy wonder wat wyle oudpres. FW de Klerk sou sê oor die feit dat sy stigting ’n absurde vorm van regstellende rassisme voorstaan, skryf Hermann Pretorius.
Uit sy kronkelende stuk in die afgelope Sondag se Rapport, is dit duidelik dat Christo van der Rheede steeds nie die moeite gedoen het om die metodologie van die IRR se Raswet-indeks na te gaan nie. Maar in sy skrywe skuil daar veel erger onkunde en gevaarliker denke oor raswette.
Dit is dalk nuttig om te begin deur uit eerste beginsels te verduidelik hoe Van der Rheede mistas ten opsigte van die Raswet-indeks.
Sekere wetgewende terme het met verloop van tyd deur die besluite van sowel die wetgewende as regsprekende bene van die Suid-Afrikaanse staat rasrelevantheid verkry. Die woord “transformasie”, byvoorbeeld, dra in spesifieke kontekste ’n doelbewuste rasbetekenis. En tog is enige wet wat die woord “transformasie” bevat, nie outomaties ingesluit by die Raswet-indeks nie, want dit kan in ander kontekste sonder die raskonnotasie gebruik word.
Dus, as Van der Rheede enigsins die metodologie van die Raswet-indeks gelees het, sou hy besef het dat net wette ingesluit word wat terminologie bevat wat ’n raskonnotasie dra én in die werklike lewe ’n regsuitwerking van rasgegronde bevoordeling of benadeling het.
Wanneer Van der Rheede dus sê my standpunt van die week tevore, waarop hy reageer, is dat enige wet wat rasterme bevat, ’n raswet is, “finish en klaar”, wys hy ongelukkig die vlakheid van sy begrip. Dit keer hom nie om met misplaaste selfvertroue en power, teenstrydige beredenering die aantyging van “kwasi-navorsing” teen die IRR te herhaal nie. Sonder om te omskryf waar die drog werklik sit, bulder hy dat die bestaan van 145 raswette ’n “drogredenasie” is.
Van der Rheede het dit ook verkeerd as hy kla oor die indeks se gelykstelling van wat hy beskou as rassistiese raswette uit die apartheidsera en regstellende raswette uit die post-1994-era. Die indeks se punt is aansienlik minder polities as dít wat Van der Rheede daarop probeer projekteer. As bloot ’n indeks, spreek dit geen oordeel uit oor die meriete al dan nie van enige raswet nie, maar identifiseer slegs die wette wat in regswerklikheid, deur regspraak en toepassing, rasgegronde gevolge dra. Die probleem is hier minder wat Van der Rheede beskou as “kwasi-navorsing” en veel eerder sy kwasi-begrip.
Maar waar Van der Rheede sy gevaarlikste flater begaan, is in sy bedenklike lees van die Grondwet, veral sy ongeankerde vertolking van art. 9, die sogenaamde ‘gelykheidsklousule’. Want so belangrik as wat art. 9 is, is daar ’n belangriker deel van die Grondwet wat Van der Rheede ignoreer.
Art. 1 van die Grondwet bepaal die fundamentele voorwaardes waarbinne elke ander wetsbepaling moet funksioneer. Dit bind die hele grondwetlike argitektuur, insluitend die Handves van Regte, en dit bepaal die parameters van aanvaarbare beleid.
Ingevolge art. 1 is Suid-Afrika se grondwetlike bedeling gegrond op “die bereiking van gelykheid” en op “nie-rassigheid en nie-seksisme”. Hierdie waardes is nie losstaande aspirasies nie, maar deel van ’n enkele, fundamentele en bindende konstitusionele kontrak. Art. 1(a) se strewe na gelykheid word omskryf deur art. 1(b) se verbintenis tot nie-rassigheid, en omgekeerd.
Dit is volkome gelykwaardige waardes wat met opperste regsgewig verskans is. Die Grondwet laat dus doelbewus nie ’n pad na gelykheid toe wat nie-rassigheid weerspreek nie. Gelykheid moet, indien die Grondwet nagekom wil word, op ’n nie-rassige wyse bereik word. Art. 1 laat eenvoudig geen ander lees toe nie.
Van der Rheede herhaal ’n algemene wanbegrip van die Grondwet deur te probeer redeneer dat substantiewe gelykheid ingevolge art. 9(2) rasmaatreëls mag insluit, iets wat ’n mens dalk met ’n lag en ’n traan “regstellende rassisme” kan noem.
Art. 9(2) lui soos volg: “Gelykheid sluit die volle en gelyke genieting van alle regte en vryhede in. Ten einde die bereiking van gelykheid te bevorder, kan wetgewende en ander maatreëls getref word wat ontwerp is om persone, of kategorieë persone, wat deur onbillike diskriminasie benadeel is, te beskerm of te bevoordeel.”
Verdedigers van rasgegronde wetgewing spring onmiddellik na die tweede sin van art. 9 asof dit die staat magtig om ras weer, soos tydens apartheid, in die reg te verskans. Maar hierdie lees kyk twee grondwetlike beperkings mis: die eerste sin van art. 9(2), en, veel belangriker, die hoër gesag van art. 1. Enige rasgegronde lees van art. 9(2) neem stil-stil aan dat dit die grondliggende nie-rassige bedeling uit art. 1(b) kan oorheers. Tekstueel en struktureel kan dit eenvoudig nie.
Art. 1(b) van die Grondwet verbied juis die rasgegronde instrumentalisering van art. 9(2). Art. 1 is reg van só ’n verhewe orde dat dit nie onderhewig is aan die gewone beperkings wat op die Handves van Regte van toepassing is nie.
Die oorheersende uitlegkundige fout agter die argument dat die Grondwet rassediskriminasie, rigied of nie, óf vereis óf toelaat, is om art. 9 as die vertrekpunt van die grondwetlike gesprek oor gelykheid en regstelling te behandel. Art. 1 is egter die korrekte vertrekpunt en art. 9 vloei bloot voort uit die grondliggende waardes wat art. 1 verskans.
’n Samehangende grondwetlike uitleg lees artikels 1(a), 1(b) en 9(2) saam om tot ’n duidelike betekenis te kom: Die ongeregtighede van die verlede moet gepak word in die strewe na gelykheid, maar die staatsrassisme wat apartheid gedefinieer het, mag nie herleef nie. Die Grondwet verplig dus nie-rassige regstelling.
Art. 9(2), waarop Van der Rheede steun om ten gunste van “regstellende raswette” te argumenteer, is hoogstens ’n raamwerktoestemming om remediërende maatreëls vir voorheenbenadeeldes aan te neem. Dit is nie ’n opskorting, verswakking of kwalifikasie van nie-rassigheid nie.
Rasgegronde wetgewing word dikwels, soos deur Van der Rheede, verdedig met die argument dat apartheid ’n rassebedeling was en dat geregtigheid daarom ’n nuwe rassebedeling vereis. Die Grondwet verwerp hierdie kwasi-logika uitdruklik. Art. 1(b) is juis die verwerping van ras as beginsel van regering as sodanig.
Niks hiervan beteken dat die Grondwet teen regstelling gekant is nie. Inteendeel, dit word vereis. Maar die regstelling wat vereis word, moet berus op die aanpak van benadeling, ontbering, uitsluiting en nood. Nie ras nie. Die skaamteloosheid waarmee die staat Suid-Afrikaners egter steeds aan raswette onderwerp, rigied of nie, is een van die grootste skandes van die grondwetlike bedeling ná 1994.
Wat uit Van der Rheede se stuk duidelik is, is die hartseer feit dat hy, hoof van ’n aansienryke stigting, eintlik nie ’n probleem het met raswette of die staat se instrumentalisering van ras nie – solank dit net nie volgens hom te “ekstreem” of “rigied” is nie.
Toe nou. Óf ons is ’n land van nie-rassigheid, soos die funderende artikel van die Grondwet beloof, óf ons is nie. Die nog-vis-nog-vlees-aanslag van mense soos Van der Rheede is dalk deugpronkend, maar kom neer op ’n liegbekkerige kwasi-nie-rassigheid wat, nes die post-1994-regering se grondwetlike vandalisme met raskwotas, -teikens, -voordele en -nadele, ’n bespotting maak van die historiese en tragies onvervulde nie-rassigheid vervat in art. 1 van die Grondwet.
Wanneer die hoof van die FW de Klerk-stigting nie die strukturele nie-rassigheid van die Grondwet verstaan nie, en selfs argumenteer ten gunste van ’n absurde soort regstellende rassisme (mits dit net nie te “rigied” is nie), kan ’n mens net wonder wat wyle pres. De Klerk daarvan sou maak. Onder sy leierskap is die hoeksteen van apartheid, die Wet op Bevolkingsregistrasie, in 1991 herroep, maar in 2026 argumenteer die hoof van sy stigting vir die herlewing van die potloodtoets en die klassifikasierade. Want hoe anders pas die staat 145 raswette toe? Of hulle nou rigied is of nie.
Hermann Pretorius is die IRR se hoof van strategiese kommunikasie en die outeur van die boek Rule Breakers: How the 2024 Election Campaign Changed South Africa Forever.
